Skip to main content
01 February 2024

BESIGHEDE EN SPAZA-WINKELS IN DIE LANGEBERG MUNISIPALE AREA WAT 'N LISENSIE BENODIG

Indien u een van die volgende besighede in die Langeberg Munisipale area bedryf, moet u in besit wees van 'n Besigheidslisensie, ingevolge die Besigheidswet, 1991 (Wet 71 van 1991). Die volgende formele en informele besighede moet aansoek doen:

1. Formele Besighede:
• Enige besigheid wat etes voorsien binne of buite die perseel (byvoorbeeld: worsrolle, hamburgers, toebroodjies, wraps, ontbyt- en aansit etes).
• Enige besigheid wat handel dryf in bederfbare voedselsoorte (byvoorbeeld: melk, vleis, vis en visprodukte).
• Enige fasiliteit wat Turkse baddens, Sauna's en gesondheids-spa behandelings aanbied.
• Enige fasiliteit wat masserings of infra-rooi behandelings aanbied.
• Enige besigheid wat (begeleidingsdienste) geselskapsdienste vir mans en/of vroue bied.
• Enige besigheid wat 3 of meer meganiese, elektroniese of elektriese toestelle vir ontspanning of vermaak aanhou (byvoorbeeld: speelmasjiene, Pin Ball-masjiene)
• Enige besigheid wat 3 of meer snoeker- of biljarttafels aanhou.
• Enige besigheid wat 'n nagklub of diskoteek bedryf.
• Enige besigheid wat 'n rolprentteater bedryf.
• Enige besigheid wat 'n perseel bedryf ingevolge Artikel 24 van die Films en Publikasiewet, 1996 vir volwassenes.

2. Informele Besighede:
Enige besigheid wat voedsel of bederfbare kos in die vorm van etes verkoop wat van plek tot plek vervoer word per voertuig of van 'n beweegbare struktuur (byvoorbeeld 'n koswaentjie of sleepwa, 'n tydelike struktuur by 'n geleentheid, of 'n mark, of vanaf 'n goedgekeurde informele handelsgebied).

3. Vrystellings:
• Besighede wat deur die Staat of Munisipaliteit bedryf word (byvoorbeeld munisipale kafeteria).
• Besighede wat deur 'n liefdadigheids-, godsdiens-, opvoedkundige- of kulturele instelling, landbou-organisasie bedryf word, slegs indien alle wins uitsluitlik vir die doeleindes van daardie organisasie gebruik word (byvoorbeeld skoolsnoepie, kerkbasaar).
• Informele handelaars wat klere, blomme, materiaal en naaldwerkbenodigdhede, vrugte en groente verkoop vanaf 'n goedgekeurde informele handelsgebied.
• Alle ander formele en informele besighede wat nie hierbo genoem is nie.

4. Aansoekproses: Besigheidslisensies:
• Die aansoekvorm moet voltooi word, en die toepaslike heffing betaal word.
• Die voltooide aansoek en bewys van betaling moet by die Munisipaliteit ingedien word.
• Die aansoek sal vir kommentaar versprei word, en as die perseel voldoen aan die nodige vereistes, sal u Besigheidslisensie binne 21 werksdae uitgereik word.
• Indien daar enige kwessies is wat nog uitstaande is, sal die besigheidslisensie slegs uitgereik word na alles aangespreek en opgelos is.

5. Aansoekproses: Spaza Winkels:
• 

• 'n Aansoek om 'n spaza winkel te bedryf, moet gedoen word ingevolge die Langeberg Grondgebruik Beplannings Verordening, 2015 en die Langeberg Geïntegreerde Sone-skema Verordening, 2018. Aansoeke word beoordeel volgens alle toepaslike wetgewing en beleide, en op grond daarvan kan die Langeberg Munisipale Beplannings Tribunaal of die gemagtigde werknemer besluit om 'n aansoek goed of af te keur.
• Aansoekvorms is beskikbaar by die Stadsbeplanningsdepartement en 'n aansoekfooi, soos uiteengesit in die tariewe lys, moet betaal word by indiening van die aansoek. Die aansoekfooi word nie terugbetaal indien die aansoek geweier word nie.
• Die eienaar moet die aansoek om die spaza-winkel te bedryf indien by die Stadsbeplanningsdepartement. Om 'n aansoek te verwerk, moet die aansoekvorm VOLLEDIG voltooi word met alle ondersteunende dokumente, terreinplan , bewys van eienaarskap / volmag deur die eienaar, kopieë van ID-dokumente en die voorgeskrewe aansoekfooi. Onvolledige aansoeke sal per pos aan die aansoeker terugbesorg word. Geen aansoek mag gedoen word vir 'n spaza-winkel op 'n perseel wat nog in die eienaarskap van die munisipaliteit of die staat is nie.
• Die aansoek moet geadverteer word, en geskrewe kennisgewings moet na omliggende eiendomseienaars gestuur word wat deur die Stadsbeplanningsdepartement geïdentifiseer is, vir hul kommentaar. Bewys van sulke kennisgewing sal deur die Stadsbeplanningsdepartement aangeteken word. Aansoekers mag alternatiewelik skriftelike toestemming van omliggende eiendomseienaars, wat as geaffekteerde eiendomme gelys word, bekom. Hierdie lys en die pro-forma bure se Toestemmingvorm, sal deur die Munisipaliteit op aanvraag verskaf word. Daarbenewens moet 'n standaard kennisgewing vir die duur van die advertensieperiode op die perseel vertoon word. Die kennisgewing moet volledige inligting oor die aansoeker se voorgestelde spaza winkel verskaf en aandui dat enige besware aan die Munisipaliteit gemaak moet word binne die gegewe tydsduur.
• Die Stadsbeplanningsdepartement moet alle inligting van die aansoek stuur aan die Gesondheids- departement, die Bou Inspekteur, die spesifieke Wyksraadskomitee en die Suid Afrikaanse Polisie.
• Hierdie instansies moet hul verslae met aanbevelings aan die Stadsbeplanningsdepartement terugstuur.
• Die Stadsbeplanningdepartement moet ook ‘n terrein inspeksie doen en ‘n verslag met aanbevelings voorberei.
• Die aansoek moet oorweeg word deur die Langeberg Munisipale Beplannings Tribunaal of gemagtigde werknemer soos van toepassing. Elke aansoek moet op meriete ge-evalueer word, spesifiek verwysend na die vereistes soos aangedui in die Langeberg Spaza Winkel Beleid.
• Die aansoeker moet per geskrewe brief in kennis gestel word van die uitslag van die aansoek. Die goedkeuring van ‘n spaza winkel deur die Langeberg Munisipaliteit is slegs van toepassing op die persoon/aansoeker wat eiendom besit. Die persoon wat die spaza winkel gaan bedryf, moet die eienaar wees, of ‘n familie-lid, of ‘n wettige huurder op die eiendom, wat in die besit is van ‘n geldige Suid-Afrikaanse ID dokument. In die geval waar die eienaar van die eiendom en/of die werkers nie Suid-Afrikaanse burgers is nie, moet ‘n geldige werkspermit verskaf word en moet dit dan ook so geboekstaaf word.
• ‘n Volledige rekord van alle Spaza Winkel aansoeke en besluite wat geneem is, moet deur die Stadsbeplanningsdepartement gehou word.

Share